Begin Vroeg Kampe

ABCDE van die Evangelie

Jesus sê:

Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is. Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? Matthéüs 7:21,22

Moenie een van hierdie mense wees nie.

Jesus sê:

Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie. Johannes 3:3 

En dit is nie iets wat die mens self kan doen nie.

Jesus sê:

Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo; wat nie uit die bloed of uit die wil van die vlees of uit die wil van ‘n man nie, maar uit God gebore is. Johannes 1:12-13

Is jy al uit God gebore? Nuut gemaak deur God sodat jy in die nuwe lewe kan wandel?

A– Aanvaar dat jy verlore is

Romeine 3:10-12 soos geskrywe is: Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie. Daar is niemand wat verstandig is nie, daar is niemand wat God soek nie. Hulle het almal afgewyk, saam het hulle ontaard. Daar is niemand wat goed doen nie, daar is selfs nie een nie.

Romeine 3:23 want almal het gesondig[1] en dit ontbreek[2] hulle aan die heerlikheid van God,

Jesaja maak dit baie duidelik – selfs my goeie goed wat ek doen is vir God ‘n gruwel. Jesaja 64: 6

Here HELP my asb, ek stem saam dat ek nog nie deur U gered is nie, ander mense kan my nie red nie en ek kan myself nie red nie, – Ek vra asseblief die reddende werking van die Heilige Gees in my lewe, sodat ek weergebore kan word en vervul kan

B - Bereken die Koste

Maar is die prys nie klaar betaal deur die bloedoffer van Jesus nie? Kan ek nie net sê “ek glo in Jesus” en dan is alles uitgesorteer nie?

 Hoekom moet ek dan die koste bereken? Dis 100% reg – Jesus het die volle en volmaakte prys van verlossing vir die hele wêreld se sonde skuld betaal. Die besluit wat ek moet maak is of ek die nuwe lewe wat Jesus vir my aan die kruis gekoop het wil hê of nie … gratis en verniet!

Want as ek Hom VAT… Dan Vat HY my, en die veranderinge wat dan MOET plaasvind is baie keer meer as wat die mens lus voor het.

Onthou: Christen wees is nie net ʼn gratis “gaan Hemele toe“ kaartjie nie. Dis ‘n nuwe lewe wat in ‘n ou, sondige, God hatende wêreld geleef moet word…  

2 Korinthiërs 5:17  Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.

Dit is hoekom Jesus self die hordes nuuskierige agies stop en hulle sê om eers die koste te bereken.  Lukas 14:25-27  En groot menigtes het saam met Hom gegaan, en Hy het Hom omgedraai en vir hulle gesê:  26  As iemand na My toe kom en hy haat nie sy vader en moeder en vrou en kinders en broers en susters, ja, selfs ook sy eie lewe nie, kan hy my dissipel nie wees nie.  27  En elkeen wat sy kruis nie dra en agter My aan kom nie, kan my dissipel nie wees nie.

Here ek wil, en al weet ek nie presies wat dit alles inhou nie, ek sal elke dag hierdie besluit weer maak en U doelbewus volg waar U my ook al ly.

 

C - Christus is die enigste middelaar

Dis mos logies—as ek myself nie kan red of verander nie, het ek ʼn VERLOSSER en ʼn REINIGER nodig wat dit vir my kan bewerk. 1 Korinthiërs 1:30

Hier sit baie mense hulle HOOP in honderd en tien verskillende goed – die Moslem hoop op Islam, die Hindoe hoop op Krisna, die Afrika boorling hoop op sy voorvaders  en die satanis hoop op satan… En so is daar honderde ander gode waarop die mens hoop om met die Vader versoen te word en om ‘n plek in die ewigheid te wen.  Maar prys die Here – God sê daar is net een HOOP – Jesus. Handelinge 4:12  En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie.

Kolossense 1:27  “…aan wie God wou bekend maak wat die rykdom van die heerlikheid van hierdie verborgenheid onder die heidene is, dit is Christus IN julle, die hoop van die heerlikheid.

Daar is geen ander manier om gered te word—vernuwe te word om in hierdie wêreld, gees, siel en liggaam onberispelik te wees by die wederkoms van Christus, apart van die lewe van Christus wat nou, IN my lewendig is nie.

Christus is nie maar net die tema van Christen wees nie – hy wat sê dat hy IN Hom bly, behoort self so te lewe soos Jesus gelewe het. Christus moet in alles die eerste en beste plek kry in die Christen se lewe. Christus moet gesien en gehoor en ervaar word in die lewe van die bekeerling. Daarom beywer Paulus hom dat Christus meer word en hy minder. Joh 3: 30

In sy eie lewe en ook in die lewe van die nuwe gemeentes.

Galàsiërs 4:19  my kinders, vir wie ek weer in barensnood is totdat Christus in julle ‘n gestalte verkry.

Daarom bedink ons die dinge wat daar bo is waar Christus is. Ons preek en praat en sing oor Christus.

1 Timótheüs 2:5  Want daar is een God en een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus,
1 Korinthiërs 8:5-6  Want al is daar ook sogenaamde gode, of dit in die hemel en of dit op die aarde is—soos daar baie gode en baie here is tog is daar vir ons maar een God, die Vader uit wie alles is, en ons tot Hom, en een Here Jesus Christus deur wie alles is, en ons deur Hom.
Die Christen se hoop is Christus Jesus alleen.

Aai dit is so tragies dat daar so baie goeie mense die kerke vol sit en tog nie weergebore is nie, en nie ‘n reddende, heiligende verhouding met Here Jesus Christus bedryf nie.  God waarsku die mens nie verniet nie, let op: Laat jou red uit hierdie krom en verdraaide geslag.   

2 Korinthiërs 13:5  Ondersoek julself of julle in die geloof is; stel julself op die proef. Of is julle nie seker van julself dat Jesus Christus in julle is nie—as julle ten minste nie verwerplik is nie!

Is jy IN Christus en Christus IN jou? Moenie tevrede wees om in ‘n kerkbank te sit sonder Christus Jesus nie.  Roep die Naam van die Here aan en HY sal jou red en Homself aan jou toevertrou. Johannes 2: 24, 25

D– Doen wat God in Sy Woord sê om te doen

Lukas 6:46  En wat noem julle My: Here, Here! En doen nie wat Ek sê nie?

Om ʼn Christen te wees is om gehoorsaam te word aan die Vader. Die duiwels se geloof red hulle nie want hulle doen nie wat God sê nie. Prys die Here dat Jesus vir ons die volle prys aan die kruis betaal, maar HY koop ons los van sonde / self / die wêreld / satan sodat ons van harte gehoorsaam kan word. Net glo – gaan jou nie red nie. As ek luister en hoor en reageer word ek met God versoen, word ek gered.

Romeine 1: 5 Dis Geloofsgehoorsaamheid wat die sondaar red.

As die Here sê: Elkeen wat die Naam van die Here aanroep sal gered word – kan ek gered word as ek nie die Naam van Jesus aanroep nie?

As die Here sê: Ek is getrou en regverdig en sal jou vergewe en reinig as jy jou sonde bely en laat staan. – kan ek gered word as ek dit nie doen nie?

Reg deur die woord sien ons die Here praat van die kinders van die ONGEHOORSAAMHEID met wie HY ‘n geveg aan het.. Kol 3:6  waardeur die toorn van God oor die kinders van die ongehoorsaamheid kom. Wil jy met God veg? Selfs die [mens Jesus] moes gehoorsaamheid leer, en net so die Christen. Kom in aksie sodat ek kan doen wat God van my verwag.

Dit is hoekom die Here ons waarsku:

Matthéüs 7:21  Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is.

Kan ek nou roem in my werke? Beslis nie, want dit is steeds God wat dit moontlik maak en betekenis gee. Hom alleen kom toe die eer en heerlikheid.

Netso is die bekeringsdoop nie ‘n kerk ritueel nie – dit is ‘n opdrag van God wat gehoorsaam moet word.

Markus 16:16  Hy wat [1]glo en hom [2]laat doop, sal gered word; maar hy wat nie glo nie, sal veroordeel word.

By implikasie dan, hy wat nie glo nie, sal hom ook nie  laat doop nie. En al laat ek my doop, [sonder geloof] – dan is ek nie gered nie want dit is nie die doop op sy eie wat red nie, Ek moet glo en gehoorsaam wees om gered te word. Romeine 6 maak die noodsaaklikheid van die bekerings doop, glashelder. Romeine 6:3-4  Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie?  Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ‘n nuwe lewe kan wandel.

En dis daardie nuwe lewe wat ek soek – daarom DOEN ek wat God sê. Here dankie dat U dit vir my moontlik maak om gehoorsaam te wees aan U woord.

 

E - Enjoy, Christen wees bring die blydskap van die Here in die mens.

Hoe wonderlik is die vreugde, vrede en blydskap van die mens wat daagliks met God wandel.  Dit kan nie anders as om ‘n loflied tot eer van God op te wek nie. Tevergeefs probeer die ongeredde, ongehoorsame mens lofliedere sing om geestelik te word. Dis net wanneer die Christen die woord van God ter harte neem dat die [blydskap van God] ons sin word.

Johannes 14:26-27  maar die Trooster, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.  27  Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie. Laat julle hart nie ontsteld word en bang wees nie.

Johannes 15:10-11  As julle my gebooie bewaar, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die gebooie van my Vader bewaar en in sy liefde bly.  11  Dit het Ek vir julle gesê, dat my blydskap in julle kan bly en julle blydskap volkome kan word.

Laai die dokument af – ABCDE van die evangelie traktaatjie