Ek is hier vir die bier
Kan die Christen sterk drank en wyn drink en regtig ʼn Christen wees?
Verseker ‘n relevante gesprek vir die Christen. Daar is verskillende opsies om te oorweeg:
1. Daar is NIKS fout daarmee om te drink nie, ek drink as ek wil drink!
2. Daar is niks fout daarmee om te drink nie, ek moet net nie te veel drink nie.
3. Daar is niks fout daarmee om ʼn drankie of twee, sosiaal te geniet nie.
4. Ter wille van my getuienis en ander se stryd sal ek nie drink nie.
1. Baie mense sê - Daar is NIKS fout met drink nie -
Sonder twyfel is dit verseker elkeen se reg om te drink, maar dit is gewis nie ‘n Bybels korrekte siening nie. Al drink jou dominee saam met jou. En ja jy hoef jou nie aan die Bybel te steur nie, Drink as jy wil Drink – niemand kan jou keer nie. Maar die gevolge van sulke self gesentreerde uitsprake is gewoonlik tragies – niemand kan dít ook keer nie. En daar is ‘n stortvloed voorbeelde oor al die eeue heen van die gevolge van so ‘n siening.
Krises op krises op krises …
Ek dink nie ons kan die skade en droefheid meet of bereken van drank se verwoestende werkinge in die wêreld nie. Spreuke 20:1 Die wyn is ‘n spotter, en sterk drank ‘n lawaaimaker; en elkeen wat daardeur bedwelmd raak, is nie wys nie.
2. Ander beweer weer, daar is niks fout daarmee om te drink nie, ek moet net nie te veel drink nie.
Wel dit is gewoonlik ‘n droewige verskoning vir iemand wat reeds te veel drink. Want wanneer het ek nou te veel gedrink…? En vele “nugter” dronk bestuurders, wat “beslis” weet wanneer om op te hou, het al die hospitaal en die begraafplaas raakgery, met die idee dat hulle nie te veel gedrink het nie.
3. Die geleentheid drinker is ook 100% oortuig, daar is niks daarmee fout om ʼn drankie of twee sosiaal te geniet nie. [of 3.. 4...5]
Het Jesus dan nie die water in wyn verander nie? Lees net eers self die volle verhaal voor jy dit goedsmoeds wil gebruik om drink te regverdig. Johannes 2:1–11
Want Jesus het dit beslis gedoen, maar dit sê egter nie jy moet dit drink nie. Jy het mos ‘n keuse. HY het ook baie ander goed gemaak wat regtig nie goed is vir die mens nie – die keuse wat die mense daar by die bruilof het is [Jesus self] of [nog wyn]. Mmm, en dis die keuse wat elkeen vandag nog sal maak. Ek soek meer van Jesus of ek soek die wêreld en die dinge van die wêreld. Wyn was verseker deel van die Jood se daaglikse lewe maar in die lewe van Jesus en ook die eerste gemeentes sien ons dat wyn nie deel is van die daaglikse – en nog minder die sosiale gebruik van die Christen nie. In 1 Timótheüs 3 sien ons die karakter van opsiener. ‘n Opsiener mag nie ‘n drinker wees nie.
Dieselfde in Titus 1:7 Want ‘n opsiener moet as ‘n rentmeester van God onberispelik wees, geen drinker, geen vegter, geen vuilgewinsoeker nie;
En nou is die argument—Kyk dis vir opsieners, dis nie vir my nie! Dit getuig maar net dat die geleentheid drinker se gedagtes nie volkome vasgenael op Jesus nie. Gewoonlik is die argument vir drank gebruik net gegrond op persoonlike genot en nie die eer van Jesus nie.
4. Ter wille van my getuienis en ander se stryd
Dan is daar die enkelinge wat meer soek van God. Meer wil wees soos Jesus. Meer wil leer, meer wil verander, en vra maar vir Noag, en vir Simson, wyn en sterk drank het nog NOOIT enige mens meer soos Jesus gemaak nie—inteendeel is dit drank wat die vlees vryheid gee, dapper maak, lus maak vir die “lekker” van die lewe. Hoor wat sê God oor dit.: 1 Korinthiërs 10:23 Alles is my geoorloof, maar nie alles is nuttig nie; alles is my geoorloof, maar nie alles stig nie. Jy kan drink as jy wil… Antwoord net eers: Maak dit my meer soos Jesus? Beslis nie. Vele soekers na God se geregtigheid het al omgekom deur die rooi glinster van die wyn.
En ten tweede— die Christen het ‘n geweldig verantwoordelikheid om die onsigbare Jesus, sigbaar te maak in die wêreld – en drank sal dit nie moontlik maak nie. Romeine 14:20-23 Moenie ter wille van voedsel die werk van God afbreek nie. Alles is wel rein, maar dit is verkeerd vir ‘n mens om te eet [drink] as dit tot aanstoot is. Dit is goed om geen vleis te eet of wyn te drink of iets te doen waardeur jou broeder aanstoot neem of struikel, of waarin hy swak is nie. Het jy geloof? Behou dit vir jouself voor die aangesig van God. Gelukkig is hy wat homself nie oordeel in wat hy vir geoorloof ag nie. Die Christen se verantwoordelikheid teenoor die evangelie troef alle vleeslike argumente. Die mense in die wêreld verdrink in die drank—die Christen wat luidkeels die evangelie verkondig met ‘n bier in die hand sal nie oortuigend wees nie. Hoe kan ons vir ander wil preek as ons self deur iets oorwin is.
Hy moet meer word, maar ek minder. Johannes 3:30
Laai die dokument af – Ek is hier vir die bier